Soptyd!!!

Soptyd!!!

Dis soptyd, en net betyds vir Moedersdag het ek hierdie maklike, dog heerlike tamatiessop om te deel. Ek gaan vandag bieg: ek is geen sopsnob nie! Ek is mal oor sop! Enige sop, vleissop, groetesop, dik sop, dun sop. Selfs op ‘n vuurwarm dag kan jy my omkoop soos Jakob vir Esau met ‘n koppie sop.

 

Wat is jou gunsteling sop? Ek kies moeilik, want sop het so baie herinneringe! Onthou jy die dae toe hulle sop in so polystyrene glasie by die skool se snoepie verkoop het, dan het jy jou hande so lekker om die glasie gevou en lank gewag dat die sop genoeg afkoel dat jy dit so sip-sip kan drink. Natuurlik het dit heeltemal te lank gevat en het ek my tong ‘n hele paar keer verbrand en dan is pouse verby en jou sop nog nie gedrink nie en moet jy met daardie glas klas toe…

 

Of ouma se boontjiesop - so om die tafel met ‘n lekker vars gebakte brood en almal se stories van die week… daardie sop het elke slegte voorval soos niks laat lyk en jou vol moed geprop vir enige volgende uitdaging.

 

Dan is daar ook die lekker dun thaise sop - tom yum soppie, met sy lemmetjie draai en effense byt in die nasmaak. So kan ek aanhou…

 

En met die verkoue en grieptyd wat nou kom - en die ou Corona wat alweer die kollig wil vat, het ek gedink dat ‘n sopresep nou net die regte ding is. Want sop is mos so goed vir verkoue omdat die sout in die sop die seer keel help genees (dieselfde konsep as om soutwater te gorrel), en die hitte help om jou neus oop te maak en verlig ook die druk van sinus. En ek het tamatiesop gekies want het jy geweet dat een koppie tamaties is 20% van jou daaglikse vit c aanvraag!

 

En dis my kinders se gunsteling: Tamatiesop. Bedien dit met ‘n snytjie brood met kaas wat jy in die oond gerooster het - wat meer wil jy vra! Die kerdsei op die koek is dat dit regtig maklik is om te maak - so ideaal vir die kleinsopan om vir mamma op moedersdag te bederf.

 

Bestanddele:

400g tamaties (kersietamaties werk goed, maar kan enige wees)

1 stingel seldery

1 ui in kwarte gesny

2 soetrissies

3 knoffeltone

40g pietersielie

Sout en peper na smaak

Skoot olyfolie

Skil en sap van 1 lemmetjie of suurlemoen

5 repies spek - bros gebraai - vir na die tyd oorstrooi

 

Sit al die bestanddele behalwe die suurlemoen/lemmetjie en die spek in ‘n oondpan, giet so skoot olyfolie oor. Geur met sout en peper, meng goed deur en rooster by  180°C totdat die tamaties oopbars en sapperig raak en die uie sag raak.

 

Intussen sny jou brood in skywe, rasper kaas oor (jy kan grasuie ook oorsnipper) en bak totdat die kaas smelt en verbruin.

 

Meng die sop met ‘n handmenger tot fyn - jy kan room bysit as jy wil. Voeg die sitrussap en skil by en meng deur.

Maak jou spek ook fyn met die handmenger of voedselverwerker - sodat dit soos krummels lyk.

 

So laat ma haar aansit en bedien jou sop saam met die gesmelte kaas broodjie en spekkrummels vir oorstrooi.


Print   Email
Image
© 2018 Wilandi Studio, All Right Reserved
© 2018 JoomShaper, All Right Reserved