'n Bak vol soesjie - met 'n laer koolhidraat oplossing!

'n Bak vol soesjie - met 'n laer koolhidraat oplossing!

Met hierdie lekker warm weer is dit mos lekker om iets koels te bedien vir aandete - of middagete en ek moet bieg my man eet hierdie graag vir ontbyt ook. So ek het gedink om my sushi-bak te deel. Ja, dit is soos ‘n slaai in ‘n bak met verskillende sushibestanddele. Die rys het ons vervang met meer volhoubare keuses koolhidrate en ons het die moeite van sushirolle maak verwyder deur dit in lae in ‘n bakkie te bedien. Die lekker ding van hierdie bakkie/slaai, is jy kan dit aanpas volgens jou behoeftes. Jy kan meer komkommer insit as jy wil kaloriee verminder, jy kan hoender in plaas van vis gebruik. Jy kan oorskiet vis gebruik of vars vis of sommer kortpad visvingers. So hierdie is die basis-idee, gaan maak joune volgens jou smaak.

Resep:

 

Stysel:

1 blik Swart bone (black beans) of droë swart bone

1/2 blik klapperroom

1/2 k quinoa- of soos nodig (dit hang af van hoe dik jou klapperroom is en of jy blik boontjies of droë bone gebruik).

Rysasyn  (60ml)

Suiker (15ml)

 

Bykomstighede:

Komkommer gerasper

Jou proteïne van keuse: 

salm(gerook en in klein flenters gesny) of visvingers, vis, of hoenderborsies gebraai in sesame-olie met suurlemoensap, sout en peper (hierdie is jou keuse)

Avocado

Grasuie gesnipper

Koljanderblare

Sesamesaad

Ingemaakte gemmer

 

Sous:

Soyasous

Cupie mayonnaise - dis nou daardie slap bottel by die Asiase kosse in die winkel.

 

Metode:

Om die bone te maak:

 

Voeg die blik bone in ‘n pot saam met die klappermelk en verhit. Voeg sout by na smaak.

 

Meng rysasyn en suiker en laat smelt. Om die proses te versnel kan dit vlugtig in die mikrogolfoond verhit word. Roer goed en laat staan. 

 

As die bonemengsel te vloeibaar bly, voeg quinoa by om te verdik. Dit mag ook nodig wees om jou sout aan te pas na gelang van hoeveel quinoa ingesit is. Laat prut totdat verdik. 

 

Maak seker al die suiker is opgelos in die rysasyn en roer dit dan deur die bonemengsel.

 

Om die sous te maak:

Meng jou sousie deur van die mayonaise en soyasous te meng - jy besluit hoe sout en loperig - my sous-mayonnaise verhouding is 1:1.

 

Bedien die bakkie deur die bestanddele in lae in te skep:

 

Bonemengsel onder gevolg deur:

Lekker baie komkommer

Jou proteïne van keuse 

Rond af met avo, gesnipperde grasuie, koljanderblare, ingemaakte gemmer en sesamesaad. Jy kan nog so spuit mayonaise oorsit vir mooi maak.

 

Die bonemengsel hou goed in die yskas vir omtrent 3 dae. 


Print   Email
Image
© 2018 Wilandi Studio, All Right Reserved
© 2018 JoomShaper, All Right Reserved